
RUIMTE-ERVARING BEOOG VIR SA, CHINA
Beeld May 09, 2005
Elma Kloppers
'n Besoek aan die buitenste ruimte is nie meer ligjare ver vir gewone aardbewoners nie, en twee temaparke oor die ruimte, wetenskap en tegnologie is in die vooruitsig vir onderskeidelik Johannesburg en Shenyang in China.
SpacePortEdutainment, 'n Suid-Afrikaanse maatskappy met 'n globale oogmerk om dié temaparke op te rig, het onlangs 'n ooreenkoms oor 'n gesamentlike onderneming met die plaaslike regering van Shenyang in China, onderteken.
Ingevolge die ooreenkoms sal SpacePortEdutainment, die Shenyang Qipanshan-toerisme-ontwikkelingsone en Liaoning Rexing Enterprises 'n SpacePort-temapark in Shenyang oprig vir $250 miljoen (sowat R1,5 miljard).
Shenyang, met sowat 7 miljoen inwoners, is een van China se Olimpiese stede, en die temapark moet volgens plan in 2008 sy deure open om saam te val met die geleentheid.
Dié gesamentlike onderneming behels 'n omvatbaarheidstudie van R2,5 miljoen, wat indien suksesvol voltooi is, sal lei tot die verkryging van finansiering en die ontwikkeling van die park.
Volgende op die lys is die SpacePortAfrica-projek naby die Johannesburgse Lughawe, waar 'n perseel reeds verkry is. Dié temapark van $75 miljoen (sowat R450 miljoen) sal deel vorm van 'n Afrika-temapark-oord van sowat R650 miljoen. SpacePortAfrica sal in Oktober 2007 oopmaak en die oord einde 2008.
Mnr. Raoul Katovsky, uitvoerende hoof van SpacePortEdutainment, sê 'n "ruimte"-hotel met sowat 500 kamers sal deel uitmaak van die ontwikkeling.
"Dié parke sal fokus op ervarings van die buitenste ruimte, ruimte-toerisme en nuwe tegnologie, wat avontuuritte op vinnige wipwaentjies insluit. Hy sê dis nie elke aardbewoner beskore om in die ruimte kan reis nie en die parke sal dit moontlik maak om 'n ruimte-ervaring op aarde te beleef.
"Die idee is om 'n konsep- en meestersplan, die rekenaar-animasie en spesiale effekte in Suid-Afrika te skep en dan te lisensieer aan ander persele wêreldwyd," sê hy.
Die aangrensende SpacePort-instituut, 'n organisasie sonder winsbejag, sal opvoedkundige ervarings en interaktiewe sessies aanbied.
Katovsky sê die ekonomiese gevolge wat die park vir Suid-Afrika inhou, veral as 'n belangrike toeriste-attraksie, is beduidend. Meer as 500 vaste werkgeleent hede sal in Johannesburg geskep word. Finansiering sal verkry word deur onder meer waagkapitaal en beleggings uit die private sektor.
Hy sê die moontlikheid bestaan dat soortgelyke parke in Europa en die Mid de-Ooste ontwikkel kan word.
|